Die nag was nog altyd vir my welkome verlossing: nie net van die dag se
sleur, spanning en probleme nie, maar donker en sterre en maanlig deur
kantgordyne en die wete dat die hele huis se mense slaap, het nog altyd ‘n
mate van vredigheid gebring: onverdiende alleentyd met jou diepste binneste
self. Ek onthou dat ek van tienertyd af soms nie kon wag dat dit slaaptyd raak
nie, nie omdat slaaptyd en kussingraak, slaap beteken het nie, maar omdat
slaaptyd dinktyd beteken het...nie gewone bestuur-werk-toe dinktyd wanneer ek
met God in gesprek is nie, nie gewone dagdroom-dinktyd tussen afsprake in Kaap
Hoorn met Cappacino en room nie, nie gewone luukse
Saterdagmiddag-vinnig-wegglip-droomland toe droomtyd nie, maar dinktyd oor dinge
wat in die na-nag saakmaak....want dit is juis in die nanag dat die werklikheid
op sy felste slaan, dat die term introspeksie se voorvoegsel ‘n klinkklare
feit word en jy konfronteer word (moontlik agv van jou totale weerloosheid hier
teen donkernag om drie) met jou eie wegsteekself waarvan net jy (teen jou sin)
en God (omdat Hy jou maker is) kennis dra. Dis dan wanneer alle maskers afval en
van geen belang is nie, wanneer jy geestelik naak voor jouself staan en (as jy
die guts het) jy nie skroom om jou self spieël-eerlik te sien nie - en
noodwendig gewoonlik met verskrikking terugdeins. Want van die omgeemens wat
more-oggend toebroodjies met tuna maak skool toe en vir elke kind R5 in die hand
toevou vir snoepie (is alle ma’s so weeloos-skuldig teenoor hul kinders?) is
daar wanneer almal slaap geen sprake nie....en raak sy weg in donker dieptes van
WEET: WEET ek is nie naastenby die ma/vrou/mens wat God vir my lewe gewil het
nie. Ongeag my suksesse in die arbeidsmark, ongeag my pogings om my man gelukkig
te maak, ongeag my ure se opsommings vir my kind se standerd-nege
eksamen...ongeag dit alles, slaan die Prediker se waarheid snags fel toe wanneer
jy met vrees besef alles kom tot niks. Die absolute enigste iets wat hoegenaamd
ewigheidswaarde het, is nie troosgeskenkies om jouself te paai nie, is nie
werksuksesse en prestasies nie, is nie liefdevol-gekookte aandetes op
deadline-aande van koerante nie....trouens niks maar niks het sin nie....tot jy
skuins voor opstaan besef dat die enigste ware sin lê daarin om God se liefde
prakties dag vir dag, minuut vir minuut uit te leef, om Sy koninkryk uit te bou,
nie met leë woorde wat jyself nie eers kan leef nie, al het jy snags die
mooiste voornemens nie, maar met liefde wat jy net in genade van God kan
afbid...
"Want die goeie wat ek wil, dit kan ek nie..." en net voor radelose
moedeloosheid jou tot gekwordens toe mal het, kom ‘n fluistering: "My
genade is vir jou genoeg" en jy besef "met my God spring ek oor ‘n
muur en loop ek bendes storm" As ons maar net die groot liefdesgebod een
dag op ‘n slag, een minuut op ‘n keer, kan aanvat, kan leef, en kan
ervaar....met ‘n genade so groot soos ons God s’n, sou dit alles TOG sin
hê. . . .